’N VERHAAL WAT WYS WIE’S REGTIG IN BEHEER
As daar ooit ʼn kommissie vir Bybel-oortredings sou wees, sal baie mense dalk voor dit moet verskyn vanweë hulle growwe misbruik van Openbaring. Geen ander boek in die Bybel is deur die loop van die geskiedenis só misverstaan verkeerd aangehaal en versplinter soos hierdie aangrypende verhaal van God se oorwinning deur Christus nie.
Vandag het daar weinig oorgebly van die skoonheid van die aangrypende visioene wat Johannes deur die loop van 22 hoofstukke in verhaalvorm verpak. Vreesaanjaende beelde is immers deur die loop van die eeue in goedgelowige mense se geheue ingeprent oor dinge soos die 666-simboliek in hoofstuk 13, of die Sataniese magte wat vanaf Openbaring 12 grafies uitgebeeld word. Tussendeur het die ryk simboliese betekenis van beelde soos die 144 000 gelowiges in hoofstuk 7 en 14, of die duisendjarige vrederyk in hoofstuk 20, in die sand weggesyfer om plek te maak vir vreemde interpretasies wat gelowiges in verskillende kerklike kampe indwing.
Daarom dat mense nie vandag sommer aan Openbaring dink as ʼn “troosboek” nie. In die hande van die sogenaamde “eindtyd-kenners” is en word dit steeds omgebuig tot ʼn onverstaanbare boek vol geheime kodes en versteekte boodskappe wat blykbaar eksklusief in ons dag in vervulling moet gaan, synde ons volgens hulle die laaste geslag, “the terminal generation” op aarde sou wees.
Ещё видео!