.
Tema: Lewe deur Sy Liefde
Teks: Ef 3:14-21
Bemoediging vir die week:
Dit is so belangrik dat ons leer om deur God se liefde te leef - om vas te staan in Sy liefde en om Sy liefde ook uit te leef. Dit is waarvoor Paulus bid in Ef 3:14-21, veral van vers 18 af. Maar eers dank Paulus God vir die kerk. Dan bid hy dat ons krag mag ontvang deur die Heilige Gees en dat Jesus in ons mag woon. Daarna bid hy dat ons mag besef hoe die liefde van die Here lyk, hoe sterk en effektief dit is.
Vier dinge staan veral uit:
1. Die voorreg van Gebed
Paulus sit in die tronk, maar niks kan hom keer om te bid nie. Sy gebed getuig van baie intimiteit met die Here. God is nie `n ATM nie. Ons gebede is nie net versoeke nie, daar is soveel meer - danksegging, lofprysing, voorbidding en skuldbelydenis. Die kerk wen op haar knieë.
2. Die gemeenskap van gelowiges
Jesus is die oorsprong van die kerk. Mag ons só kerk wees dat dit Hom verheerlik. Kerkwees gaan nie oor ons voor- of afkeure nie, dit gaan oor Hom. Hoe jammer dat mense die kerk verdeel en verskeur deur hulle eie egoïsme. Mag die Here ons herinner aan die voorreg van kerkwees, van bruid-wees.
3. Die Krag van God
Paulus bid dat ons innerlik sterk mag wees. Dat ons ons krag mag put uit wie Jesus is. Dat ons sal onthou hoe groot en kragtig God is. Nie in ons eie krag nie, maar deur Sy Gees. Daar mag geen loadshedding in ons geloof wees nie.
4. Die liefde van God
Paulus bid verder dat die liefde van God ons anker vir die lewe sal wees en dat ons mag besef hoe groot voorreg dit is om `n kind van ons Hemelse Vader te wees. Niks kan ons skei van die Liefde van God nie! Dit gee ons moed om te volhard en aan te hou groei, selfs al is dit hoe moeilik.
Gesels in groepe:
1. Hoe lyk jou gebedslewe en hoe dink jy kan dit verbeter?
2. Wat beteken die gemeenskap van gelowiges vir jou?
3. Hoe is jy deel van die Liggaam van Christus op `n praktiese vlak?
4. Glo jy nog in die krag van God?
5. Wat veroorsaak dat ons baie keer so swak in ons geloof voel en wat kan ons daaraan doen?
6. Hoe werklik is die liefde van die Here vir jou?
7. Hoe kan ons lewe deur die liefde van die Here?
#gklinden #boodskap #bemoediging #geloof #bou #gemeenskapvangelowiges #christenskap #christen #liefdevangod #krag #gebed #gksa #lewe #jesusliefde
Ещё видео!